Die doel van die eerste ronde navorsing is om ‘n helder prentjie te kry van die ryk-arm situasie in ons land en van die maniere waarop ons as kerk die grootste koninkryk-gerigte verskil kan maak.
AGTERGROND:
Die Algemene Sinode het in 2015 die taak opgeneem om groter duidelikheid te verkry oor “die rol van die kerk in die hantering van armoede, ongelykheid en werkloosheid”.
Die moderatuur het in Augustus 2016 ‘n gesprek gereël tussen teoloë en ekonome. Daarna het die ASM opdrag gegee aan die PSD Teologiese Navorsing om saam met Bybel-Media gemeentelike terugvoer oor hierdie gesprek te versamel en aanbevelings aan die volgende Algemene Sinode te maak met die oog op die vorming van ʼn beleidsraamwerk vir getuienis oor ekonomiese aangeleenthede. ‘n Beplanningspan het op 17 Maart met Nelis J van Rensburg vergader en daar is besluit om in ‘n eerste ronde te vra na die persepsies asook belowende praktyke wat in dié verband in ons kerk bestaan. (Pieter van der Walt, Barry Tolmay, Christo Thesnaar, Rethie van Niekerk, Carike Noeth, Jaco Botha en Ankia du Plooy.)
Ons het die Kerkspieël Predikantepaneel in Mei 2017 gebruik vir ‘n deel van hierdie navorsing. Dit was ‘n 10% ewekansige steekproef, met ‘n kwantitatiewe en kwalitatiewe opname.
Ons het ook ‘n aantal gemeentes genader van wie ons weet dat hulle reeds vir ‘n geruime tyd op volhoubare wyse, doelbewus en planmatig die uitdaging van armoede, ongelykheid en werkloosheid oor grense aanpak. Ons het hulle gevra watter insigte, gesindhede, vaardighede en gewoontes het die verskil gemaak en ons het baie betekenisvolle terugvoer gekry.
Verskeie mense het die terugvoer help verwerk. Opsommings en interpretasie van die drie stelle terugvoer vorm deel van hierdie verslag. Die bedoeling is dat die ASM aan die hand van die verslag die vraag help verdiep en verder fokus sodat ons die beste moontlike resultaat na die volgende Algemene Sinode kan neem. (Bybel-Media werk aan ‘n hanteerbare voorstelling van die essensie van hierdie terugvoer ter wille van ‘n sinvolle ASM gesprek oor wat ons te doen staan.)
Die ASM word dus versoek om te help skryf aan die raamwerk vir die projek se ontwerp-opdrag.
Ons sal dan binne hierdie raamwerk van die ASM, in samewerking met Bybel-Media, materiaal ontwikkel wat deur elke sinode gebruik kan word op maniere wat hulleself verkies. Die materiaal sal so ontwikkel word dat dit op verskillende maniere en in verskillende kontekste aangewend kan word.
Die materiaal sal DV by die ASM in Maart 2018 bekendgestel word sodat die ASM dit kan evalueer en, ooreenkomstig die verskillende sinodes se behoeftes en omstandighede, reëlings kan tref om dit aan te wend.
KORT OPSOMMENDE OPMERKINGS OOR DIE EERSTE NAVORSINGSRESULTATE:
- Uit die gesprek met die ekonome het geblyk dat hulle oortuig is daarvan dat die kerk kn help om die groot gaping tussen ryk en arm kleiner te maak. Werkloosheid is genoem as die enkele grootste bydraer tot die groot gaping tussen ryk en arm. Hulp uit die kerke ten opsigte van onderwys en vaardigheidsopleiding, asook vennootskapvorming met ander kerke en instansies is voorgestel as ingrepe wat die grootste verskil sal maak.
- Uit die Predikantepaneel het geblyk dat daar ‘n baie sterk wil en positiewe energie is om iets te doen om die groot gaping tussen ryk en arm te verklein. Die onvermoë van die regering om die land ekonomies te ontwikkel en ‘n gebrekkige onderwyssisteem word gesien as die hoofredes vir die groot gaping. ‘n Vyfde van respondente sien nie die ekonomiese uitsluiting van groepe mense in die verlede as ‘n rede nie. Die geloof dat materiële welvaart geluk bring, word ook genoem as ‘n beduidende rede: mense leef net vir hulleself in plaas van om die “evangelie te leef”. Liefdadigheidsprojekte, waaronder veral voedingsprojekte, is op die oomblik die enkele grootste praktiese respons op die groot gaping tussen ryk en arm.
- Uit die vrae aan gemeentes met volhoubare armoedeverligtingsprojekte oor watter kapasiteite daarvoor nodig is, het geblyk dat verhoudings oor grense en ‘n gedeelde identiteit deurslaggewend is. Verder is ‘n entrepeneuriese, ontwikkelings- ingesteldheid “van onder”, eerder as voorskriftelikheid van welvarendes met eie agendas wat alles wil bepaal, baie belangrik. Bemagtiging word gestel teenoor “handouts”, wat help met onmiddelike noodverligting, maar ‘n afhanklikheidskultuur in stand hou. Hiervoor is die oortuiging nodig dat arm mense self die potensiaal het om ‘n beter bestaan te maak. Die gemeente se rol is om vennootskappe te vestig wat help op ‘n praktiese vlak klein deure van hoop oop te maak en dit oor en oor te doen sodat momentum geskep word. Die kuns is om met integriteit aan te hou sonder om self diegene wat gehelp word se verantwoordelikhede oor te neem of hulle te inhibeer.
MOONTLIKE VRAE VANUIT DIE EERSTE TERUGVOER:
- Hoe kan ons die missionale geleenthede of koninkryks-uitdaging raaksien in ons situasie in plaas van om te blameer
- Hoe kan ons ons strategie aanpas en kreatief met die bronne en gawes, waaroor ons reeds beskik, die groot gaping tussen ryk en arm verklein?
- Hoe kan ons op ‘n nie-inhiberende, bemagtigende manier teenwoordig wees in ons hulp-prosesse?
- Staan ‘n liefdadigheid-ingesteldheid moontlik in die pad van entrepeneuriese ontwikkeling en versterk dit moontlik ‘n afhanklikheidskultuur?
- Verstaan ons genoeg van wat “voorheen benadeel” beteken, watter denkraamwerk gevestig is en wat die effek daarvan is?
- Hoe kan meer mense oor grense aan mekaar blootgestel word, sodat vertroue ontwikkel en ‘n nuwe verbeelding en bewussyn kan groei?
BYLAAG 1
OPSOMMING VAN DIE GESPREK MET EKONOME
KONTEKS:
- 10% van die SA bevolking verdien meer as 50% van huishoudingsinkomste.
- Die armste 20% verdien minder as 1.5% van die huishoudingsinkomste.
- Die werkloosheidsyfer gedurende die eerste kwartaal van 2016 was 27,6%.
- 48% van die Suid-Afrikaanse bevolking is onder die ouderdom van 24.
STAN DU PLESSIS wys daarop dat die SA gini-koefisiënt eintlik betreklik laag indien werkloses buite rekening gehou word. Die hoë gini-koeffisiënt in SA is dus eerder ‘n aanduiding van die hoë werkloosheid. Werkloosheid die grootste bydraer tot die groot ekonomiese ongelykheid tussen die mense van Suid-Afrika
JOHAN VAN ZYL meen staatstoelae help ekonomiese groei aan. Capitec, Shoprite, Pep Stores en talle kleinsake ondernemings het gegroei as gevolg van die impetus van die inkomste van die laer inkomste groep in SA. Die vraag is egter hoe lank dit volgehou kan word sonder groei in die ekonomie en die uitwissing van werkloosheid.
FRANCIS WILSON vra vir ‘n “bottom-up” benadering deur die kerk: reageer op die behoeftes van plaaslike gemeenskappe deur “omgee-netwerke” te vestig met ander kerke en organisasies. Gebruik kerkgeboue bv. vir klinieke en opleiding.
DAWIE KLOPPER meen kerklike netwerke is sterk genoeg om koördinering en samewerking te bewerk met groot impak. Die oplossing is om vennootskappe en vertroue te bou.
MOELETSI MBEKI noem dat mense wil weet hoe die NG Kerk dit in die verlede reggekry het om armoede te breek. Hy glo die kerk is naby aan die mense en kan daarom ‘n verskil maak …deur te help met onderrig en deur projekte te ondersteun waarmee mense eintlik reeds besig is. Die NG Kerk kan dit vandag nie alleen doen nie.
MOSS NTLA wys daarop dat uitbuiting en onreg in ons verlede sodanig bevorder is, dat dit moeilik is om nou daaraan te ontkom. Armoede word bloot voortgesit. Witmense is struktureel bevoordeel deurdat hulle vir baie lank in die magsposisies was, voorkeur keuses kon uitoefen en van swart arbeid gebruik maak.
NELIS VAN RENSBURG noem dat ons ‘n sterker sin vir gemeenskap nodig het in die land. Die kerk behoort ‘n sterk sin vir ons lotsverbondenheid te bevorder
KERKLIKE NABETRAGTING OOR DIE GESPREK:
- Die ekonome se verwagtinge van die rol van die NG Kerk in die heropbou van die lande se ekonomieë is verrassend hoog.
- Sonder ekonomiese groei sal armoede nie verlig word nie. Herverdeling alleen sal niks bereik nie.
- Ongelykheid tussen mense maak gemeenskap onmoontlik. Sonder sosiale kohesie bly ons op ‘n pad van konflik.
- Die kerk se bydrae kan nooit wees op grond van dwang of skuldgevoel nie, maar word gemotiveer vanuit die Evangelie van Jesus Christus.
- ‘n Missionale teologie is gefokus op die florering van mense. Die Evangelie is die goeie nuus van ‘n alternatiewe lewe in Christus waarin daar in alle omstandighede met hoop geleef kan word.
- Gemeentes wat effektief in die plaaslike gemeenskap funksioneer en bydra tot die daaglikse welstand van mense, is gemeentes wat groei.
- Teologiese opleiding sal sterker moet fokus op die rol van die predikant as gemeenskapsontwikkelaar en sosiale fasiliteerder. Dit hang ten nouste saam met ons missionale teologie.
- Die NG Kerk sal moet leer om ekumenies te funksioneer. Dit is van die belangrikste maniere hoe grense oorgesteek kan word na ander gemeenskappe.
- Die NG Kerk sal met groot nederigheid en leerbaarheid diensbaarheid moet beoefen. Daar is nie meer plek vir paternalisme nie.
- Die NG Kerk sal ‘n koherente visie moet ontwikkel en op die “ders wat sterk en gesond in die skoolsisteem inkom, is van onskatbare waarde vir die toekoms vabottom up” wyse moet bydra tot die ontwikkeling van die land. Energie kan verspeel word om die regering die heeltyd te wys op sy “top down”-verantwoordelikheid.
- Evaluering van dit wat die kerk reeds doen, is van groot belang.
- Gemeentes moet praat oor die plaaslike bates en geleenthede met die oog op dienslewering.
- Gemeentes sal baie hard moet werk aan verhoudings en versoening in die gemeenskappe waarin hulle leef.
- Die kerk sal baie hard moet werk aan die vorming van waardes en die stig van gemeenskap met mede-Suid-Afrikaners.
- Gemeentes moet by Christus self hoor waar Hy hulle roep om ‘n verskil te maak. Hierdie onderskeiding moet liefs saam met ekumeniese vriende gedoen word.
- Gelowiges wat swaar belaai is met emosionele bagasie uit die verlede, soos die wonde van die grensoorlog, sal gehelp moet word om nuut te dink oor die lewe en samelewing.
BYLAAG 2
Predikante paneel: Ekonomie vrae
Opmerkings: Daar bestaan ‘n persepsie onder predikante dat onvoldoende ekonomiese ontwikkeling (94%), dat die staat hulle plig versuim om mense te ontwikkel (95%) en die die oneffektiewe onderwysstelsel (81%) die hoofredes is vir die groot gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika.
Dit is opmerklik dat omtrent 20% van predikante nie dink dat die groepe mense wat in die verlede uitgesluit is by ekonomiese prosesse ‘n rede is vir die gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika nie.
Ander redes vir die groot gaping tussen ryk en arm word beskryf as:
- die bestaan van ‘n kultuur van selfverryking en woorde soos “gierigheid”, “geldsug”, “grypsug”, “magsug” en “eie belang”staan uit.
- Een respondent skryf: “Ons is vasgevang in ‘n Westers-Kapitalistiese sisteem waar materiële welstand vir die massas voorop staan en mense ten alle koste ryker wil word.”
- Verskeie respondente verwys ook daarna dat mense bemagtig moet word tov finansiële ongeletterdheid en ook dat mense moet leer dat harde werk sukses bring.
- Nog ‘n respons: “Ons moet leer om evangelie te leef, dan sal ons op nuwe maniere by armes betrokke raak en hul lewe radikaal verander.”.
Opmerkings: Dit is baie bemoedigend dat 97% van predikante sê: “Ek wil armoede help bestry”.
Dit word bevestig deur die 0% predikante wat meen dat hulle niks hoef te doen om armoede te bestry nie. Die wil om ‘n verskil te maak blyk besonders hoog te wees onder predikante en ons vermoed dat die Algemene Sinode met baie positiewe energie te doen sal hê in die aanspreek van die groot gaping tussen rykdom en armoede.
Opmerkings: Gemeentes blyk veral betrokke te wees by:
- Liefdadigheidsprojekte (91%),
- skenk geld aan armoedeverligting projekte (85%),
- help arm mense finansieël (69%) en
- ontwikkelingsprojekte (67%).
Slegs 1% meen dat die gemeente niks hoef te doen om armoede te help bestry nie. Daar is dus ‘n hoë vlak van verbintenis onder predikante tot hierdie saak.
Q22: Vertel van ‘n sinvolle, praktiese poging in jou gemeente of omgewing om die gaping tussen ryk en arm kleiner te maak.
Alhoewel ons betrokke is by arm mense, is daar nie regtig ‘n poging om die gaping kleiner te maak nie.
Pos is geskep om uit te reik na anderstaliges en ekonomies-afhanklike mense
Ons is betrokke by die stigting en ontwikkeling van ‘n pro-aktiewe model watuitreik na kinderhuis vir vigswesies in plakkerskamp
Betrokkenheid by ECD en leierskap ontwikkeling by plaaslike hoërskole.
Ons adverteer werksgeleenthede. Ons help mense dinge maak en ontwikkel om te verkoop vir ‘n inkomste.
Daar is ‘n projek in ons omgewing wat werkloses help om sekere vaardighede aan te leer. Die doel van die projek is om mense te bekwaam sodat hulle werk kan kry of self vir hulle werk te skep. Dit is ‘n klein projek wat op ‘n baie klein skaal gedryf word. Maar dit dra tog op ‘n beskeie manier by tot die verkleining van die gaping tussen ryk en arm omdat dit mense bepaalde vaardighede gee om ekonomies vooruit te gaan.
Ons bedryf ‘n sentrum vir kinders op die outismesentrum op ons kerkperseel. Ons poog om hierdie diens, wat baie duur is, vir mense wat finansieel nie daartoe instaat is nie, te subsidieer dmv die insmeling van borge/skenkings.
Ons is weekliks betrokke by twee voedingsprojekte waartydens ons vir mense wat op straat woon kos gee en op hierdie manier poog om opheffingswerk te doen.
Met pas afgelope baie reën en gepaardgaande vloedskade, was ons betrokke by die insameling en verspreiding van kos, klere en komberse aan slagoffers.
Ons is betrokke by ‘n kinderhuis in ons provinsie
Skole bediening, verall laerskole. Senior lidmate bediening.
Kospakkies en ondersteuning van gesinne in krisis tye.
Ons het n weeklikse projek wat meer as 100 mense per week kos gee en bedien met die Evangelie. Hulle kry ook klere as hulle nodig het kry geleentheid om hulle self te was en te stort ens. Ons probeer mense se menswaardigheid herstel.
Bied opleiding aan onbekwame lede van die gemeenskap.
Ek dink hierdie vraelys het my weer laat dink. Ek dink nie ons is regtig hiermee besig nie. Ek dink ons dit veel op ons self gerig. Ek is eintlik hartseer as ek daaroor dink.
Ons is wel betrokke by TB Hospitaal, maar ons doen eintlik so min. Ons kan baie meer doen.
Een maal per jaar op ‘n Sondag uitreik in die gemeenskap. Dis verseker eintlik net ‘n gebaar maar maak tog ‘n verskil. Registreer projekte waarby lidmate kan inskakel.
Ons ondersoek die moontlikheid om die “uplift”program in die gemeente te inkorporeer. Beurse vir minderbevoorregtes en werknemers se kinders se studies deur ‘n hele paar individue in die gemeente. Die hoë belastinglas en beveiliging teen misdaad en die groeiende problematiek van ons kinders wat nie werk kry weens BEE verwante aanstellings en ten spyte van goeie kwalifikasies is nie baie sinvol nie, maar is verseker besig om ‘n effek op die gaping tussen ryk en arm te verklein, ten minste in die rasidentiteit van wie ryk is en wie arm.
Ons streef daarna om ń kultuur-skuif te laat plaasvind deur ń Recycle Swopshop. Die projek wil laerskool kinders leer dat as ons recycle en ons deel doen word ons beloon. Hulle ontvang ń hoeveelheid tokens op grond van die hoeveelheid rommel wat hulle bring. Hulle kry dan geleentheid om hulle tokens te spandeer in die swopshop winkel. Die projek het weekliks tussen 200 en 450 kinders en het reeds meer as 13 ton rommel van die strate verwyder.
Gemeenskaplike (verskeie gemeentes en kerke in die dorp) projek om hulpverlening aan die dorp se inwoners te verskaf- voeding, klerebank, werksgeleenthede bekend maak.
Daar is lidmate wat betrokke is by projekte waar arm kinders in die naburige swart woonbuurt goeie kleuterskool-opleiding ontvang. Ons is ‘n boerderygemeenskap en baie boere probeer werk skep. Ongelukkig is daar dikwels baie politieke agendas wat die pogings versuur.
Daar is tans opleiding vir huishulpe wat praktiese aspekte insluit, soos hoe om kos te maak, behoorlik skoon te maak, etiket, ens. Terselfdertyd, word daar ook omgesien na die geestelike ontwikkeling van hierdie werkers en word beter werksverhoudings en ook meer geleenthede vir die werkers geskep.
VKO VKO VKO!
Verskeie uitreikprojekte na behoeftiges
Samewerking met welsynsorganisasie
Betrokke by uitreik na armer (plaas)skole
Verskeie gemeentelede gaan uit hulle pad om werklose persone werk te gee, bv houtwerk, bouwerk, konstruksiewerk, ens.
Ons gemeente bou huise vir mense wat onder haglike omstandighede leef in die informele nedersetting.
Ons samel kos, klere, komberse ens in en deel dit uit aan armes en organisasies in die dorp om die nood te help verlig.
Ondersteuning van die C.M.R
Behalwe vir betrokkenheid by ontwikkelingsprojekte in minder gegoede areas en die ondersteuning van liefdadigheidsprojekte doen ons tans niks anders nie.
Deur opvoeding in agtergeblewe gebiede se kleuterskole.
Daar is n jeugklub waar van ons lidmate betrokke is, en die kerk bewillig jaarliks n bedrag vir julle
Ons help werklose mense by ons Beroepeforum om werk te kry. Leer mense vaardighede aan by ons naaldwerkklasse.
Skoolprojekte betrokkenheid, uitreik en deelgenootskap.
Help met opleiding van studente – help individue om ander te help.
ECD, Nasorg, Keep your town clean en voedselhulp.
Ons projekte is meer om mense te bedien met kos, medikasie, fisiese versorging, gebed en hier en daar elektriesetydsrekeninge te betaal, kinders se busgeld skool toe, skoolklere skenkings ens.
Ons is besig om “help lift” in ons gemeente te implimenteer
Sending begin by jou eie huis: Ons kerk is self besig om uit ‘n finansiële ‘dip’ te kom en so glo ek dat as ‘n mens in hierdie groeiproses die gemeentelede se harte reg begin kweek vir vorentoe, dan sal die saad na buite versprei. Verhoudingsbou en bewusmaking van die realiteit deur teologie is daarom my fokuspunt om ‘n hoopvolle toekoms te skep in my omgewing.
Ons en individuele lidmate doen baie om werk te skep. Bevorder enterpreneurskap onder werkers en families. Moenie uit die oog verloor nie: talle is tevrede om arm te wees. Wil nie verantwoordelikheid dra nie.
EPWP werkskepping programme
Plaaswerkers funksies vir opheffing
Ons gee berading ten opsigte van finansiële bestuur. Ons help ook mense om werk te kry en menswaardigheid terug te kry.
Leraars en lidmate in senior posisies poog om lidmate by werke in te kry.
Ons gemeente doen baie om ons arm werknemers se kinders die geleentheid te gee op ‘n goeie universiteitsopleiding.
ECD sentrum in ‘n arm gemeenskap.
Betrokke by opheffingswerk in ‘n plakkerskamp!
Alhoewel ons wonderlike projekte en bedieninge het wat gemeenskappe om verskeie maniere help, kan ons meer doelbewus aandag gee aan hierdie gaping.
Ons gemeente bied deurgangs onderwys-hulp en eksamenhulp aan hulpbehoewende leerlinge in ons omgewing en elders tydens die Julie-skoolvakansie.
Deur ons Barmhartigheidsprojek wat ook armoedeverminderingsprojekte aanbied.
Sorg en Omgee aksie, rekenaaropleingprojek, betrokke by skool, sopkombuis en werkskeppingsaksies, klere straatmarkte.
Kospakkies, sop vir miv/tb mense vir medikasie, sop en brood in gemeenskap uitgedeel, kerspakkies vir armes, klere uitgedeel.
Ons het ‘n bediening waar werkloses gehelp word om weer aktief in die arbeidsmark in te kom of andersins toegerus word met vaardighede en vermoëns om hulle eie klein ondernemings te begin.
Ons is betrokke by ‘n werkskeppingsprojek.
Help mense wat werk soek om werk te vind.
Die voorsiening van skoolopleiding aan minderbevooregtes.
Lidmate word aangemoedig om elkeen ‘n verskil te maak waar hulle leef. Dit is buiten talle mense en projekte vir wie ons finansieel en met mensebronne ondersteun.
Ons fokus op vroee kinderontwikkeling het nie net die kinders as bevoordeeldes nie, maar ook veral vrouens wat ontwikkel word om eie besigheid te begin, om hulle potentiaal te ontwikkel en aan hul sin in hul bestaan te gee.
In samewerking met die CMR het ons bv ‘n naaldwerk-projek waar vrouens van ons gemeente saam met armer vroue (waarby die CMR betrokke is). Daar word skills aangeleer en klere gemaak wat of self gebruik word of op plekke verkoop word.
Ook gedurige bedienings by Ouetehuis in die omgewing (wat meestal “anderskleurig” is) deur eredienste daar aan te bied, kinders gaan sing gereeld, besoek en by spesiale geleenthede iets spesiaal doen.
Ons is tans in samewerking met die plaaslike VGK-gemeente betrokke by talle fasette van VKO.
Stigting van NPO wat konsentreer op armoedeverligting.
Een maal per jaar word ‘n Barmhartigheidsweek aangebied waar “ryk” lidmate bloot gestel word aan armoede en projekte in die breër gemeenskap.
Ons ring en ringsgemeentes is by ‘n paar werkskeppingsprojekte betrokke. Andersins is die nood so groot dat ons hoofsaaklik net besig is om die simptome te dokter deur om korttermyn projekte op klein skaal te loods.
Betrek alle mense van alle vlakke op gelyke vlak by alle gemeente-aksies, veral kleingroepe
Reik uit na mense wat hulle werk verloor het en help hulle terug te keer na die arbeidsmark oa deur hulle in kontak te bring met groepe wat hulle kan help.
Wanneer ons finansiele hulp verleen, moet die persone ook aanmeld vir sessies waar hulle geleer word oor finansies, begroting, CV opstel ens.
Ons is betrokke by VKO in die armste deel van ons gemeenskap. Ons betaal die hoof se petrol, 2 personeellede se salaris asook skryfbehoeftes maandeliks.
Ons deel weekliks 75L vars melk aan behoeftige gesinne uit wat deur ‘n plaaslike melkboer geskenk word.
Blootstelling aan armoede deur besoeke van aksies.
Is betrokke by voorskoolse kinders en laerskool kinders in die arm gebiede om sodoende mense te help dat, as hulle ouer is, hulle self uit die kolk van armoede sal beweeg.
Betrokkenheid by die bestuur en hulp aan verskeie kleuterskole. Ook by CMR en bedieninge aan weste van stad waar groot armoede is.
Betrokkenheid by geletterdheidsprogramme.
Ons het ‘n baie aktiewe Diens van Barmhartigheidskommissie. R27600 word aan die versorging van vigswesies in die woonbuurt per jaar spandeer. Truitjieprojek waar 100 truitjies, mussies en serpies aan hierdie kinders uitgedeel word. 100 ton mielies word oor drie jaar aan die gemeenskap uitgedeel. Kospakkies, klere en ander droë voorraad word op gereelde basis uitgedeel. Dit beloop R75000 per jaar. R90000 word per jaar aan die huis vir bejaardes voorsien. Die helfte gaan vir benodighede en die ander helfte om inwoners se kostes te subsidieer.
Multikulturele kontak en bediening
Opvoeding om mense lewensvaardighede te gee. Belê baie tyd in jeugbediening om kinders sterker vir toekoms te maak.
Ons direkte omgewing is oorwegend middelklas, so die gaping is nie so duidelik daar nie, ons ondersteun ‘n NGO in ‘n nabygeleë area met die ondersteuning van meestal VIGS wesies om toe te sien dat hulle versorg word, skool toe kan gaan, ontwikkeling op verskeie vlakke en waar moontlik ook planne te maak om te help met tersiêre onderrig
Beursfonds vir kinders wie se ouers nie hulle skoolfooie of -klere en -boeke kan bekostig nie.
Betrokke by haweloses om op te voed sodat hulle werk kan kry/doen.
Voedselskema – mense werk by projek. Verdien geld om hulle behoeftes aan te spreek
BYLAAG 3:
TERUGVOER VAN GEMEENTES WAT BETROKKE IS BY GEMEENSKAP-OORBRUGGENDE ARMOEDE PROJEKTE
Watter kennis of insig het vir julle die grootste verskil gemaak ten opsigte van julle betrokkenheid by die gemeenskap?
Gewone gelowiges neem deel
Persoonlike betrokkenheid by behoeftige mense in plaas van professionele dienste
Ontwikkelingsmodel vs ’n “top-down approach”: Behoeftiges word self betrek by besluite oor wat hulle behoeftes is en hoe oplossings moet lyk.
Vorm netwerke met ander kerke en hulporganisasies om oorvleueling uit te skakel en mekaar se projekte te versterk.
Besef dat daar behoeftige mense is met baie potensiaal, wat ‘n groter bydrae tot die samelewing kan maak as wat hulle sosio-ekonomiese omstandighede toelaat.
Sien in dat gebrekkige ondersteuningsnetwerke die pad na sukses baie moeilik maak.
Besef dat behoeftige ouers se vlak van opvoeding verhoed dat hulle hul kinders met begrip in hulle skoolwerk en pad na tersiêre onderrig kan ondersteun.
Ons moes ‘n eenheidsgevoel skep in ‘n onafhanklike entiteit – los van die politiek en etnisiteit. Ons het dit gedoen met ‘n inklusiewe logo – die stokstert Erdman wat gedeelde waardes simboliseer (kuddedier, dapper, wakker, trots, beweeg oor grense)
Die projek is nie voorskriftelik nie, maar bemagtigend.
Hoe het julle gesindheid in die gemeenskap teenoor mekaar verander?
Ons kompeteer nie met mekaar nie.
Ons het vertroue gebou tussen hulpverleners én behoeftiges.
Wedersydse respek en onvoorwaardelike aanvaarding van elke behoeftige.
Verwelkomendheid teenoor veroordelende gees.
Gemaklike verhoudinge genereer energie
Ons kyk in dieselfde rigting en werk saam
Ons beoefen geduld. Mens-ontwikkeling vind nie oornag plaas nie.
Persoonlike agendas het verdwyn.
Wat moes julle leer doen?
Verhouding bou voordat jy ’n persoon help.
Luister
Om ‘n goeie beleid te ontwikkel en dit konsekwent uit te voer
Netwerk met SAPD, gemeentes, skole en ander hulporganisasies.
Klein “watertrap”-geleenthede identifiseer vir werksoekendes om klein inkomstes te verdien twv selfwaarde.
Opleidingsgeleenthede is noodsaaklik in die proses (klein besighede, entrepeneurs, ens)
Maak so gou moontlik vensters van hoop vir mense oop. Leer hulle weer droom en om nuwe horisonne raak te sien.
Doen niks vir iemand wat hy/sy self kan doen nie.
Leer behoeftiges om self hulpverleners te wees. Dit neem die fokus weg van eie probleme en herstel die gevoel van eie waarde.
Spanwerk en wedersydse ondersteuning van hulpverleners, asook behoeftiges aan mekaar.
Bou “koinonia” tussen lede van projekspanne en personeel.
Vrywilligers en donateurs wil graag deelwees van ’n “wenspan”. Skep goeie geleenthede en gee gereelde terugvoer. Fokus altyd op verhoudings.
Bou ’n sterk en lojale Bestuurspan.
Deur inklusief te wees tov projek. Ons het alle sektore van die gemeenskap betrek…niemand is oorgeslaan.
Leer om jongmense aan positiewe rolmodelle bloot te stel.
Hulle horisonne te verbreed met uitstappies na besighede, kultuur-historiese besienswaardighede en entrepreneursgeleenthede.
Om ouers te ondersteun om jongmense beter te verstaan en sodoende ‘n beter verhouding met hulle kinders te hê en beter te ondersteun.
Leer luister
Om dieper te kyk na die ware behoeftes van die gemeenskap.
Leer om alle vorme van sukses raak te sien, ongeag hoe groot of hoe klein en dit te celebrate.
Ons doen die projek uit ‘n missionale toelogiese perspektief, en werk nou met ander kerke saam.
Dit moet ‘n roeping wees.
‘n Mens moet jou gemeente begelei tot ‘n inklusiewe Koninkryks visie.
Volhard en moenie toelaat dat doemprofete die agenda bepaal, veral in beginfase nie.
Sukses lei tot sukses. In die begin vra dit geweldige insette en momentum moet geskep word wat tot sukses lei.
Boere het met laaigrawe en vragmotors berge gemors verskuif uit agtergeblewe woonbuurte.
Wanneer die fokus reg is en jy die regte dinge doen, ontsluit dit energie en kom die momentum.
Ons het geleer die Here maak groot deure oop en laat dinge self gebeur.
Wat het julle oor en oor gedoen wat die meeste gehelp het?
Onmiddellike noodverligting (eerstehulp) wat opgevolg word met ’n langer pad van begeleiding deur verhoudings.
Professionele begeiding/berading moet beskikbaar wees.
Goeie en deurlopende kommunikasie. Goeie en gereelde inligting en veral die deel van “Goeie Nuus”-stories.
Weldeurdagte projekte op ’n deurlopende basis. Beplan goed om dit volhoubaar te maak.
Gebedsgeleenthede vir personeel en hulpverleners. Bid veral vir spesiale krag, wysheid, goeie besluite en die regte leiding aan mense in nood (behoeftiges is dikwels irrasioneel, veeleisend en emosioneel omdat hulle gewoonlik te lank wag voordat hulle hulp vra).
‘n Persoon in ‘n lewensgrootte kostuum tree altyd op. Dit herinner altyd aan gedeelde visie.
Aanhoudend praat oor realistiese toekomsdrome
Gereeld wys na waarom verskillende modules/aktiwiteite belangrik is
Aanhoudend aanmoedig om ná skool te studeer.
Besef die waarde dat jongmense wat ná matriek op die een of ander vlak/manier suksesvol is, soms die mees effektiewe rolmodelle is.
Ons het ons volhardend daarvan weerhou om ander mense of instansies ae verantwoordelikheid oor te neem.
Ons volstaan met bemagtiging…baie moeiliker as “handouts”, en moet dit oor en oor doen.
Professionele begeiding/berading moet beskikbaar wees, soos bv. ’n maatskaplike werker, “onbetaalde personeel” wat hulle tyd gee as projekleiers, afgetrede professionele persone wat hulle kennis en ervaring deel, professionele persone in voltydse beroepe wat ’n gedeelte van hulle tyd skenk op ’n ad hoc basis (bv dokters, tandartse, skuldberaders/finansiële adviseurs, prokureurs en beraders)
Augustus 2017