Samestelling NG Kerk
• Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) bestaan as organisasie uit tien (10) sinodes. Nege sinodes is in Suid-Afrika. Die tiende sinode is in Namibië. Die sinodes se grense volg min of meer dié van die provinsies van die land.
• Die 10 sinodes neem verantwoordelikheid vir die werk binne geografiese streke in Suider-Afrika. Die 10 sinodes bestaan uit 1 158 gemeentes wat in 144 ringe saamgegroepeer is met 1 074 765 doop- en belydende lidmate.
• Elkeen van die verskillende sinodes het hulle eie sinodale struktuur met ‘n eie sinodale kantoor in die hoofsentrum (dorp of stad) wat daardie betrokke sinode bedien (Sien kaart). Elke sinode het ook jurisdiksie oor hulle eie werksaamhede.
• Op die plaaslike vlak is die kerkraad van elke gemeente saam met die gemeentelike leraars (1602 predikante is in diens van die NG Kerk) verantwoordelik vir die pastorale versorging en uitbou van die kerk.
• Saam vorm die tien sinodes die Algemene Sinode van die NG Kerk. Die Algemene Sinode het in 1962 tot stand gekom. Die Kantoor van die Algemene Sinode is tans in Pretoria gesetel met ander administratiewe komponente (hoofsaaklik kommunikasie en media) in Wellington en Bellville.
Samestelling Algemene Sinode
Die Algemene Sinode
Vergader elke 4 jaar. Die volgende gewone vergadering is in 2023.
Samestelling
• 370 afgevaardigdes wat sover moontlik saamgestel word uit ‘n gelyke aantal predikante en kerkraadslede.
• Die eerste 200 afgevaardigdes word uit 20 persone per samestellende sinode saamgestel, waarvan die helfte verkieslik jonger as 40 jaar moet wees.
• 160 afgevaardigdes word proporsioneel volgens die aantal belydende lidmate van elke samestellende sinode aangewys.
• Die Algemene Kuratorium wys tien afgevaardigdes uit die vyf opleidingsentra aan naamlik die drie teologiese fakulteite by Stellenbosch, Bloemfontein en Pretoria; Hugenote Kollege en die Namibiese Evangeliese Teologiese Seminarium. Hierdie persone het volle sittingsreg.
Die Algemene Sinode funksioneer volgens Art 43 van die Kerkorde.
Moderamen (ASM)
Die ASM funksioneer in die termyn tussen gewone vergaderings van die Algemene Sinode as ‘n gevolmagtigde werksvergadering waar die operasionele- en bedryfsake van die Algemene Sinode behartig word..
Die ASM besluit self oor die frekwensie van vergaderings maar vergader ten minste een maal per jaar
Die ASM word soos volg SAAMGESTEL:
• Vyf verteenwoordigers van elke samestellende sinode.
• Voorsitters van die volgende taakspanne van die Algemene Sinode: Leerstellige en Aktuele Sake; Algemene Kuratorium; Algemene Taakspan Regte; Ekumene; Publieke Getuienis; Missionale Roeping; Fondse en Bates
• Die Algemene Sekretaris, Algemene Bestuurder en PSD Navorsing
• Voorsitters van ad-hoc taakspanne wat die fokusse van die ASM dien, kan gekoöpteer word.
• Voorsitters van direksies van die kerklike maatskappye (adviserend).
KONSTITUERING
Die ASM konstitueer aan die einde van die vergadering van die algemene sinode onder leiding van die algemene sekretaris.
Dagbestuur
• Die ASM wys sy eie dagbestuur aan
• Bestaan uit ‘n voorsitter, ondervoorsitter, aktuarius, 3 addisionele lede en die algemene sekretaris
• Die dagbestuur tree as interim liggaam op tussen vergaderings van die ASM en hanteer sake van spoedeisende belang waarvoor daar nie taakspanne bestaan nie.
• Die dagbestuur funksioneer tot aan die einde van die opvolgende sitting van die Algemene Sinode.
TAAKSPANNE
Taakspanne funksioneer aan die hand van hulle omskrewe mandate in hulle onderskeie reglemente en opdragte van die ASM; dien as ruimtes waar geloofsonderskeidend saam gedink word; ontwikkel kundigheid wat die kerk ten goede kan kom.is nie voorskriftelik nie, maar adviserend en ondersteunend ten opsigte van samestellende sinodes en ander kerkvergaderings.
Die ASM prioritiseer en wys taakspanne aan om die opdrag van die Algemene Sinode tot uitvoering te bring.